Kinderregte – ’n algemene oorsig

25 October 2013 ,  Magdaleen de Klerk 3391

Die Suid-Afrikaanse regstelsel word, vir sover dit die regte van kinders aanbetref, as een van die mees progressiewe regstelsels ter wêreld beskou.

Hierdie regte word onder andere in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die Kinderwet en verskeie internasionale konvensies, wat deur die Suid-Afrikaanse regering mede-onderteken is, vervat.

Hierdie regte behels onder andere die volgende:

  1. Die reg op ouer- of gesinsorg;
  2. Die reg op basiese voeding, huisvesting en gesondheidsorg;
  3. Die reg om teen mishandeling, verwaarlosing en vernedering beskerm te word;
  4. Die reg om gehoor te word;
  5. Die reg dat die beste belang van ʼn kind van die allergrootste belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak.

Wat die reg op ouer- of gesinsorg aanbetref het ʼn kind onder andere die reg op ʼn persoonlike verhouding en gereelde kontak met beide ouers.

In die aanhef tot die Kinderwet word onder andere vermeld dat ʼn kind in ʼn familieverband en in ʼn atmosfeer van liefde, geluk en begrip moet groot word.

Dit is verder meer een van die doelstellings van die Kinderwet om die behoud en verstewiging van families te bevorder.

Ons howe het dan ook benadruk dat dit in die beste belang van ʼn kind is dat die kind nie van enige ouer vervreem moet word nie, dat ʼn kind nie in ʼn posisie geplaas moet word ten einde sy/haar liefde en toegeneentheid vir enige ouer te verloor nie, of dat enige ouer toegeneentheid jeens en belangstelling in sy/haar kind moet verloor nie.

Die howe het voorts benadruk dat die liefde en toegeneentheid van beide ouers die sekuriteit en stabiliteit van ʼn kind bevorder en die nadelige effek op ʼn kind indien hy/sy sonder ʼn ouer groot word.

Wat die reg om nie aan mishandeling, verwaarlosing en vernedering onderwerp te word nie aanbetref bepaal die Suid-Afrikaanse Skolewet, byvoorbeeld dat geen persoon in skoolverband lyfstraf mag toedien nie.

Die omskrywing van mishandeling in die Kinderwet sluit sielkundige- en emosionele mishandeling in.

Artikel 110 van die Kinderwet plaas ʼn verpligting op sekere professionele persone (onder andere mediese- en regspraktisyns, onderwysers, predikante en maatskaplike werksters) om kindermishandeling en verwaarlosing te rapporteer.

Artikel 110 van die Kinderwet maak voorts daarvoor voorsiening dat enige persoon (sonder die risiko van siviele aanspreeklikheid) die moontlikheid dat ʼn kind sorgbehoewend is en beskerming nodig het, aan ʼn maatskaplike instansie of die Polisie kan rapporteer.

Artikel 10 asook Artikel 31 van die Kinderwet maak voorsiening vir die deelname van ʼn kind, na gelang van die kind se individuele volwassenheidsgraad, in aangeleenthede wat die kind raak.

Ons howe het dan ook in hierdie verband die noodsaaklikheid vir kinders om gehoor te word benadruk ten einde ingeligte besluite ten aansien van wat in die kind se beste belang is te neem.

Benewens strafregtelike sanksies waarvoor in verskeie wetgewing vir die skending van sekere kinderregte voorsiening gemaak word, maak ons regstelsel ook vir siviele eise om skadevergoeding weens die skending van ʼn kind se grondwetlike regte voorsiening.

Ten slotte word daar in verskeie wetgewing ʼn verpligting op die staat geplaas om die nodige infrastruktuur daar te stel ten einde aan kinderregte gevolg te gee.

Tags: Child, Family
Share: