ʼn Kind se reg op kontak met albei ouers

22 November 2013 ,  Magdaleen de Klerk 1297

Die grootste onreg wat enige ouer ʼn kind kan aandoen is om die kind kontak met die ander ouer te ontneem.  Die feit dat ʼn ouer nie ʼn goeie lewensmaat was nie, beteken nie noodwendig dat hy of sy nie ʼn goeie ouer is nie.

Die Appèlhof het dan ook in hierdie verband al beslis dat daar nie iets soos ʼn “perfekte ouer” is nie.

ʼn Kind se reg op “ouerlike versorging” word, weens die belangrikheid daarvan, in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, (wat die oppergesag van ons land is), beskerm.

Die Kinderwet maak eweneens daarvoor voorsiening dat ʼn kind ʼn reg op ʼn persoonlike verhouding en gereelde kontak met albei ouers het.

Ons howe het eweneens beslis dat ondervinding geleer het dat ʼn kind ʼn behoefte aan die betrokkenheid van beide ouers in sy/haar lewe het en dat ʼn kind wie daarsonder groot word, meermale ʼn sielkundige agterstand het.  ʼn Kind ontvang belangrike lewenslesse vanaf albei ouers en die toegeneentheid en liefde van albei ouers bevorder ʼn kind se sin vir sekuriteit en stabiliteit.

Baie klem word voorts in die Kinderwet op die verstewiging van familiebande gelê.

In terme van Artikel 35 van die Kinderwet stel ʼn ouer wie strydig met die bepalings van ʼn Hofbevel, die ander ouer kontak met ʼn kind weier hom/haar aan strafregtelike vervolging bloot.

Die feit dat ʼn kind in terme van ʼn Hofbevel in die primêre sorg van ʼn spesifieke ouer geplaas is, beteken nie dat daardie ouer meer “regte” as die ander ouer het nie.  Artikel 31 van die Kinderwet bepaal spesifiek in hierdie verband dat die betrokke ouer die ander ouer se insette moet bekom alvorens belangrike besluite rakende ʼn kind geneem word, byvoorbeeld besluite wat die kind se kontak met die ander ouer, asook ʼn kind se verblyf raak.

Artikel 10 asook Artikel 31 van die Kinderwet bepaal dat ʼn kind se insette, afhangende van die betrokke kind se individuele volwassenheidsgraad, bekom moet word alvorens belangrike besluite wat die kind raak, geneem word. Dit beteken nie dat ʼn kind kan kies by watter ouer hy of sy wil woon nie en of hy of sy kontak met ʼn ouer wil of nie wil hê nie.  Die deurslaggewende oorweging is steeds wat in die betrokke kind se beste belang is.

Ons howe het dan ook in hierdie verband beslis dat “It is a fundamental principle of our common law that the sins and quarrels of parents are not visited on the children.”

Tags: Child, Family, Marriage
Share: